1. HOOR dit, o priesters, en let op, o huis van Israel, en gee gehoor, o huis van die koning! Want die vonnis raak julle, omdat julle vir Mispa ’n vangnet geword het en ’n uitgespreide net op Tabor.
2. Ja, in verderflike praktyke verdiep die afvalliges hulle, maar Ek sal hulle almal tot tugtiging wees.
3. Ek ken Efraim, en Israel is vir My nie verborge nie; want nou het jy owerspel bedrywe, o Efraim! Israel is verontreinig.
4. Hulle dade gedoog geen terugkeer tot hulle God nie, want daar is ’n gees van hoerery in hulle binneste, en hulle ken die Here nie.
5. En die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en Israel en Efraim sal struikel deur hulle ongeregtigheid, ook Juda sal saam met hulle struikel.