Hebreërs 10:16-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,

17. en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.

18. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.

19. TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus

20. op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,

21. en ons ’n groot Priester oor die huis van God het,

22. laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

23. Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;

24. en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;

25. en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

26. Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,

27. maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.

28. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie;

29. hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?

30. Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.

31. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.

32. Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ’n groot lydensworsteling deurstaan het,

33. gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ’n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ’n toestand verkeer het.

34. Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in die hemele het.

35. Werp dan julle vrymoedigheid, wat ’n groot beloning het, nie weg nie.

36. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.

Hebreërs 10