5. soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.
6. Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik ’n groot lig uit die hemel my omstraal,
7. en ek het op die grond geval en ’n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
8. En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg.
9. En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.
10. En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen.
11. Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom.
12. En ’n sekere Ananías, ’n vroom man volgens die wet, wat ’n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon,
13. het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk.
14. En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor;
15. want jy sal vir Hom by al die mense ’n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.
16. En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.
17. En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in ’n verrukking van sinne gekom
18. en Hom gesien, en Hy het vir my gesê: Maak gou en gaan haastig uit Jerusalem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie.