Génesis 9:12-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte:

13. my boog gee Ek in die wolke; dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.

14. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke,

15. dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ’n vloed word om alle vlees te verdelg nie.

16. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is.

17. En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.

18. EN die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kanaän.

19. Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.

20. En Noag het as landbouer ’n wingerd begin plant.

21. Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.

22. En Gam, die vader van Kanaän, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy twee broers daarbuite te kenne gegee.

23. Toe neem Sem en Jafet die bo-kleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle agteruitloop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie.

24. Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het,

25. sê hy: Vervloek is Kanaän! ’n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.

26. Verder het hy gesê: Geseënd is die Here, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.

27. Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.

28. En Noag het ná die vloed driehonderd-en-vyftig jaar gelewe.

29. So was dan al die dae van Noag negehonderd-en-vyftig jaar, en hy het gesterwe.

Génesis 9