4. En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword.
5. En hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n keer gedroom; en kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel;
6. en ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroei was;
7. en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was ’n droom!
8. Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit aan Farao uitlê nie.
9. Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring.
10. Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers.
11. En ons het in dieselfde nag ’n droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen ’n droom met besondere betekenis.
12. En daar was by ons ’n Hebreeuse jongman, ’n kneg van die owerste van die lyfwag — aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; aan elkeen het hy die uitlegging volgens sy droom gegee.
13. En soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur — my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang.
14. Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom.
15. Toe sê Farao vir Josef: Ek het ’n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ’n droom net hoef te hoor om dit uit te lê.
16. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao ’n gunstige antwoord gee.
17. Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl,
18. en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras.
19. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie.
20. En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet: