7. maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie.
8. As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes. En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes.
9. So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee.
10. Eenkeer, in die tyd toe die kleinvee verhit was, het ek my oë opgeslaan en in ’n droom gesien dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was.
11. En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek!
12. En Hy sê: Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Laban jou aandoen.
13. Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My ’n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland.
14. Toe antwoord Ragel en Lea en sê vir hom: Het ons nog deel of erfenis in die huis van ons vader?
15. Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring.
16. Want al die rykdom wat God van ons vader weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Doen dan nou alles wat God jou gesê het.
17. Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele,
18. en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kanaän.
19. Onderwyl Laban gaan om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode van haar vader gesteel.
20. En Jakob het Laban, die Arameër, mislei deur hom nie te vertel dat hy wou vlug nie.
21. So het hy dan gevlug met alles wat hy gehad het: hy het hom klaargemaak en deur die Eufraat gegaan en sy aangesig gerig na die gebergte van Gílead.
22. En op die derde dag kry Laban die tyding dat Jakob gevlug het.
23. Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom agternagejaag, ’n afstand van sewe dae, en hom ingehaal in die gebergte van Gílead.
24. Maar God het na Laban, die Arameër, in die nag gekom in ’n droom en vir hom gesê: Pas nou op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie.