Génesis 31:42-55 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

42. As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie — ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel.

43. Toe antwoord Laban en sê vir Jakob: Die dogters is my dogters, en die seuns is my seuns, en die kleinvee is my kleinvee, ja, alles wat jy sien, is myne; maar my dogters — wat sal ek hulle vandag kan aandoen of aan hulle seuns wat hulle gebaar het?

44. Kom dan nou, laat ons ’n verbond sluit, ek en jy, dat dit ’n getuie tussen my en jou kan wees.

45. Daarop het Jakob ’n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig.

46. En Jakob het aan sy broers gesê: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe gaan haal en ’n hoop gemaak en daar op die hoop geëet.

47. En Laban het dit Jegar-Sahadúta genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem.

48. Toe sê Laban: Hierdie hoop is vandag ’n getuie tussen my en jou. Daarom het hulle dit Gal-ed genoem,

49. en ook Mispa, omdat hy gesê het: Mag die Here wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie.

50. As jy my dogters mishandel, en as jy vroue neem by my dogters, dan is geen mens by ons nie: Kyk, God is getuie tussen my en jou.

51. Verder sê Laban vir Jakob: Daar is dié hoop klippe, en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het —

52. hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jý na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie.

53. Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.

54. Toe het Jakob ’n offer gebring op die gebergte en sy broers genooi om brood te eet. En hulle het brood geëet en die nag in die gebergte oorgebly.

55. En Laban het die môre vroeg opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Daarna het Laban vertrek en teruggekeer na sy woonplek.

Génesis 31