17. Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele,
18. en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kanaän.
19. Onderwyl Laban gaan om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode van haar vader gesteel.
20. En Jakob het Laban, die Arameër, mislei deur hom nie te vertel dat hy wou vlug nie.
21. So het hy dan gevlug met alles wat hy gehad het: hy het hom klaargemaak en deur die Eufraat gegaan en sy aangesig gerig na die gebergte van Gílead.
22. En op die derde dag kry Laban die tyding dat Jakob gevlug het.
23. Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom agternagejaag, ’n afstand van sewe dae, en hom ingehaal in die gebergte van Gílead.
24. Maar God het na Laban, die Arameër, in die nag gekom in ’n droom en vir hom gesê: Pas nou op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie.
25. En Laban het Jakob ingehaal; Jakob het sy tent al opgeslaan gehad in die gebergte, en Laban met sy broers het dit opgeslaan in die gebergte van Gílead.
26. Toe vra Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy my mislei en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer het?
27. Waarom het jy stilletjies gevlug en my mislei en my dit nie vertel nie, dat ek jou met vrolikheid en liedere, met tamboeryn en siter kon weggebring het?
28. Ook het jy my nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy dwaas gehandel.
29. Dit is in my mag om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het verlede nag met my gespreek en gesê: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad te spreek nie.
30. Nou is jy dan eenmaal aan trek, omdat jy so erg verlang het na die huis van jou vader — maar waarom het jy my gode gesteel?
31. Toe antwoord Jakob en sê vir Laban: Omdat ek bevrees was, want ek het gedink u sal miskien u dogters met geweld van my wegneem.
32. Die een by wie u u gode vind — hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.