27. En die seuns het opgegroei: Esau het ’n ervare jagter geword, ’n man van die veld; maar Jakob was ’n vredeliewende man wat in tente gewoon het.
28. En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.
29. En Jakob het ’n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom.
30. Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.
31. En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.
32. En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?
33. Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop.
34. En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.