35. En die Here het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee.
36. En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer ’n seun gebaar nadat sy al oud was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit.
37. En my heer het my laat sweer en gesê: Jy moet vir my seun geen vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie;
38. maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my geslag en vir my seun ’n vrou gaan haal.
39. Toe het ek aan my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie.
40. Maar hy het my geantwoord: Die Here voor wie se aangesig ek gewandel het, sal sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my seun ’n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal.
41. Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my.
42. Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: Here, God van Abraham, my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak —
43. ek staan hier by die fontein — laat dít nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink —
44. en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep — sý is die vrou wat die Here vir die seun van my heer bestem het.
45. Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar gesê: Laat my tog drink!
46. En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink.
47. Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van Bétuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande,