21. En Hy sê vir hom: Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.
22. Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom noem hulle die stad Soar.
23. Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom.
24. En die Here het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die Here uit die hemel,
25. en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.
26. En sy vrou het agter hom omgekyk, en sy het ’n soutpilaar geword.
27. En Abraham is vroeg in die môre na die plek waar hy voor die aangesig van die Here gestaan het.
28. Toe hy uitkyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele land van die Jordaanstreek, sien hy dat die rook van die land optrek soos die rook van ’n smeltoond.
29. En onderwyl God die stede van die Jordaanstreek verwoes, het God aan Abraham gedink en Lot uitgelei uit die omkering toe Hy die stede omgekeer het waar Lot woonagtig was.
30. En Lot het uit Soar opgetrek en saam met sy twee dogters gaan woon op die gebergte, want hy was bang om in Soar te bly; daarom het hy saam met sy twee dogters in ’n spelonk gaan woon.
31. En die oudste het aan die jongste gesê: Ons vader is oud, en daar is geen man in die land om, na die reël van die ganse aarde, by ons in te gaan nie.
32. Kom, laat ons aan ons vader wyn gee om te drink en met hom gemeenskap hou, sodat ons deur ons vader ’n geslag in die lewe kan hou.