18. Daarop antwoord Lot hulle: Ag nee, my Here!
19. Kyk tog, u kneg het genade in u oë gevind, en U het u guns groot gemaak wat U aan my bewys het deur my in die lewe te behou. Maar ek is nie in staat om na die gebergte te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterwe nie.
20. Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug, en dit is klein. Laat my tog daarheen vlug — is dit nie klein nie? — dat ek kan lewe!
21. En Hy sê vir hom: Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.
22. Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom noem hulle die stad Soar.
23. Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom.
24. En die Here het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die Here uit die hemel,
25. en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.
26. En sy vrou het agter hom omgekyk, en sy het ’n soutpilaar geword.
27. En Abraham is vroeg in die môre na die plek waar hy voor die aangesig van die Here gestaan het.
28. Toe hy uitkyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele land van die Jordaanstreek, sien hy dat die rook van die land optrek soos die rook van ’n smeltoond.
29. En onderwyl God die stede van die Jordaanstreek verwoes, het God aan Abraham gedink en Lot uitgelei uit die omkering toe Hy die stede omgekeer het waar Lot woonagtig was.