6. Moses en Aäron het toe gedoen soos die Here hulle beveel het; so het hulle gedoen.
7. En Moses was tagtig jaar en Aäron drie-en-tagtig jaar oud toe hulle met Farao gespreek het.
8. En die Here het Moses en Aäron aangespreek met die woorde:
9. As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ’n wonderteken vir julleself — dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit ’n slang word.
10. Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die Here hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit het ’n slang geword.
11. Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste:
12. elkeen gooi sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle stawe verslind.
13. Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie soos die Here gespreek het.
14. TOE sê die Here vir Moses: Farao se hart is verhard; hy weier om die volk te laat trek.
15. Gaan môre vroeg na Farao toe — kyk, hy sal uitgaan na die water; staan dan aan die kant van die Nyl om hom te ontmoet; en neem die staf wat in ’n slang verander het, in jou hand,
16. en sê vir hom: Die Here, die God van die Hebreërs, het my na u gestuur met die boodskap: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien in die woestyn. Maar kyk, u het tot nou toe nie geluister nie.
17. So spreek die Here: Hieraan sal jy weet dat Ek die Here is. Kyk, ek sal met die staf wat in my hand is, op die water slaan wat in die Nyl is, en dit sal in bloed verander word.
18. En die visse in die Nyl sal doodgaan, sodat die Nyl sal stink. En die Egiptenaars sal vergeefs trag om die water uit die Nyl te drink.
19. Verder het die Here met Moses gespreek: Sê vir Aäron: Neem jou staf en steek jou hand uit oor die waters van die Egiptenaars, oor hulle strome, hulle kanale, hulle waterkuile en oor al hulle versamelplekke van water, sodat dit bloed word: daar sal bloed in die hele Egipteland wees, ook in hout — en in klipbakke.
20. Moses en Aäron het toe so gedoen soos die Here beveel het — hy het die staf opgehef en die water wat in die Nyl was, geslaan voor die oë van Farao en voor die oë van sy dienaars; en al die water in die Nyl is in bloed verander.
21. En die visse wat in die Nyl was, het doodgegaan; en die Nyl het gestink, sodat die Egiptenaars die water uit die Nyl nie kon drink nie. En daar was bloed in die hele Egipteland.
22. Maar die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste, sodat Farao se hart verhard is; en hy het na hulle nie geluister nie, soos die Here gespreek het.
23. En Farao het omgedraai en huis toe gegaan en dit ook nie ter harte geneem nie.