5. sodat hulle kan glo dat die Here, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het.
6. En die Here het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu!
7. En Hy sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees!
8. En as hulle jou nie glo en aan die eerste teken geen gehoor gee nie, dan sal hulle die laaste teken glo.
9. En as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, neem dan van die Nyl se water en giet dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die Nyl neem, op die droë grond bloed word.
10. Toe sê Moses aan die Here: Ag, Here, ek is nie ’n man van woorde nie — van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.
11. En die Here antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie?
12. Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.
13. Maar hy sê: Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur.
14. Toe ontvlam die toorn van die Here teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hý goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart.