Exodus 35:2-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ’n heiligheid, ’n dag van volkome rus wees tot eer van die Here. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word.

3. Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie.

4. Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Dít is die saak wat die Here beveel het:

5. Neem van julle besittings ’n offergawe aan die Here. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die Here: goud en silwer en koper;

6. en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar;

7. en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout;

8. en olie vir die kandelaar en speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye;

9. en oniksstene en stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas.

10. En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die Here beveel het:

11. die tabernakel, sy tent en sy dekkleed, sy hakies en sy style, sy dwarshoute, sy pilare en sy voetstukke;

12. die ark en sy draaghoute, die versoendeksel en die voorhangsel tot bedekking;

13. die tafel met sy draaghoute en al sy gereedskap, en die toonbrode;

14. en die kandelaar tot verligting, met sy gereedskap en sy lampe, en die olie vir die kandelaar;

15. en die reukaltaar met sy draaghoute, en die salfolie en die reukwerk van speserye, en die bedekking vir die ingang van die tabernakel;

16. die brandofferaltaar met sy traliewerk van koper, sy draaghoute en al sy gereedskap; die waskom met sy voetstuk;

17. die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking van die poort van die voorhof;

18. die penne van die tabernakel en die penne van die voorhof met hulle lyne;

19. die kunstige klere om in die heiligdom te dien, die heilige klere vir die priester Aäron en die klere van sy seuns om die priesteramp te bedien.

20. Toe het die hele vergadering van die kinders van Israel van Moses af weggegaan.

Exodus 35