Exodus 30:1-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. JY moet ook ’n altaar maak om reukwerk te brand. Van akasiahout moet jy dit maak.

2. ’n El moet sy lengte wees en ’n el sy breedte — vierkantig moet dit wees; en twee el sy hoogte. Sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees.

3. En jy moet dit met suiwer goud oortrek: die plaat en die sykante rondom en die horings. En maak daarvoor ’n goue krans rondom.

4. Maak ook twee goue ringe daarvoor onderkant die krans aan weerskante; jy moet dié aan die twee sykante maak. En hulle moet dien as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra.

5. En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.

6. Sit dit dan voor die voorhangsel wat voor die ark van die Getuienis is, voor die versoendeksel wat oor die Getuienis is, waar Ek met jou sal saamkom.

7. En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek.

8. En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek as ’n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die Here in julle geslagte.

9. Julle mag daarop geen vreemde reukwerk of brandoffer of spysoffer bring nie. Julle mag ook geen drankoffer daarop uitgiet nie.

10. En Aäron moet een maal in die jaar aan die horings daarvan versoening doen; met die bloed van die sondoffer van versoening moet hy een maal in die jaar daarvoor versoening doen vir julle geslagte. Hoogheilig is dit aan die Here.

11. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

12. As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die Here gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie.

13. Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ’n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom — die sikkel is twintig gera — ’n halfsikkel as offergawe aan die Here.

14. Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die Here gee.

15. Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ’n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die Here gee om vir julle siele versoening te doen.

16. Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die Here, om vir julle siele versoening te doen.

17. EN die Here het met Moses gespreek en gesê:

18. Jy moet ook ’n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin,

19. dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was.

20. As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur ’n vuuroffer aan die Here aan die brand te steek.

Exodus 30