1. JY moet ook die altaar van akasiahout maak; vyf el moet die lengte wees en vyf el die breedte — vierkantig moet die altaar wees — en drie el sy hoogte.
2. En jy moet sy horings op die vier hoeke maak; sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees; en jy moet dit met koper oortrek.
3. En maak sy potte om die as te verwyder, ook sy skoppe en komme en vurke en vuurpanne. Al dié gereedskap moet jy van koper maak.
4. Jy moet daar ’n traliewerk aan maak, ’n netwerk van koper, en aan die net vier koperringe maak, aan die vier hoeke.
5. En jy moet dit onder die lys van die altaar bevestig, onderaan, sodat die net tot by die helfte van die altaar kom.
6. Jy moet ook draaghoute vir die altaar maak, draaghoute van akasiahout; en trek dit oor met koper.
7. En die draaghoute moet in die ringe gesteek word, sodat die draaghoute aan altwee kante van die altaar is as hulle dit dra.
8. Jy moet dit hol, van planke, maak. Soos dit jou op die berg getoon is, so moet hulle dit maak.
9. JY moet ook die voorhof van die tabernakel maak. Aan die suidekant, na die suide toe, moet daar vir die voorhof behangsels wees van fyn dubbeldraad-linne; honderd el moet die lengte vir die een kant wees;
10. daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees.
11. So moet daar ook aan die noordekant, in die lengte, behangsels wees, honderd el lank; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke. Die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees.
12. En in die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet daar behangsels van vyftig el wees; daarby tien pilare en hulle tien voetstukke.