23. MAAK ook ’n tafel van akasiahout. Twee el moet sy lengte, en ’n el sy breedte, anderhalf el sy hoogte wees.
24. En trek dit oor met suiwer goud, en maak daarvoor ’n goue krans rondom.
25. Maak daarvoor ook ’n lys van ’n handbreed rondom; en maak ’n goue krans vir die lys rondom.
26. En maak daar vier goue ringe voor, en sit die ringe vas aan die vier hoeke van die vier pote.
27. Naby die lys moet die ringe wees as plekke vir die draaghoute om die tafel te dra.
28. En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud; daarmee moet dan die tafel gedra word.
29. Maak ook sy skottels en sy rookpanne en sy kanne en sy bekers waarmee gegiet moet word; van suiwer goud moet jy dit maak.
30. En op die tafel moet jy altyddeur toonbrood voor my aangesig neersit.
31. MAAK ook ’n kandelaar van suiwer goud. Van dryfwerk moet die kandelaar, sy voetstuk en sy stam gemaak word; sy kelkies, sy knoppe en sy blomme moet, daarmee saam, uit een stuk wees.
32. En ses arms moet uit die sykante daarvan uitgaan: drie arms van die kandelaar uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant.
33. Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, ’n knop en ’n blom, en drie kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, ’n knop en ’n blom — so moet dit wees aan die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
34. Maar aan die kandelaar self moet vier kelkies soos amandelblomme wees, met knoppe en blomme:
35. daar moet ’n knop wees onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en ’n knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en ’n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan — vir die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
36. Hulle knoppe en hulle arms moet, daarmee saam, uit een stuk wees — alles saam een stuk dryfwerk van suiwer goud.