Esra 7:8-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En hy het in Jerusalem gekom in die vyfde maand; dit was die sewende jaar van die koning.

9. Want op die eerste van die eerste maand het hy die optog uit Babel gereël, en op die eerste van die vyfde maand het hy in Jerusalem aangekom, omdat die goeie hand van sy God oor hom was.

10. Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die Here te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer.

11. En dit is die afskrif van die brief wat koning Artasásta gegee het aan Esra, die priester-skrifgeleerde, wat skrifgeleerd was in die woorde van die gebooie en insettinge van die Here oor Israel:

12. Artasásta, die koning van die konings, aan die priester Esra, skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, volkome vrede! En nou —

13. deur my is bevel gegee dat elkeen van die volk van Israel en van sy priesters en Leviete wat in my koninkryk gewillig is om na Jerusalem te trek, met jou mag saamtrek;

14. omdat jy vanweë die koning en sy sewe raadsmanne gestuur is om oor Juda en in Jerusalem ondersoek te doen volgens die wet van jou God wat in jou hand is,

15. en om die silwer en goud weg te bring wat die koning en sy raadsmanne vrywillig gee aan die God van Israel wie se woning in Jerusalem is,

16. en al die silwer en goud wat jy sal vind in die hele provinsie Babel saam met die vrywillige gawes van die volk en die priesters wat vrywillig gee vir die huis van hulle God wat in Jerusalem is.

17. Daarom moet jy sorgvuldig met hierdie geld koop bulle, ramme, lammers met die spysoffers en drankoffers wat daarby behoort, en dit op die altaar van die huis van julle God in Jerusalem offer.

18. En wat jy en jou broers goedvind om met die orige silwer en goud te doen, kan julle doen volgens die wil van julle God.

19. Maar die voorwerpe wat aan jou gegee word vir die diens van die huis van jou God, moet jy aflewer voor die God van Jerusalem.

20. En die ander benodigdhede vir die huis van jou God wat jy sal moet gee, mag jy gee uit die skathuis van die koning.

21. En deur my, koning Artasásta, is bevel gegee aan al die skatmeesters wat wes van die Eufraat is, dat alles wat Esra, die priester, die skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, van julle vra, sorgvuldig gedoen moet word,

22. tot honderd talente silwer en tot honderd kor koring en tot honderd bat wyn en tot honderd bat olie toe en sout sonder beperking.

23. Alles wat volgens die bevel van die God van die hemel is, moet stiptelik uitgevoer word vir die huis van die God van die hemel; want waarom sou daar ’n toorn kom oor die koninkryk van die koning en sy seuns?

Esra 7