Eségiël 47:2-8 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit.

3. Toe die man na die ooste uitgegaan het met ’n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die enkels.

4. Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan — waters tot aan die heupe.

5. Verder het hy nog duisend gemeet — ’n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys — waters om in te swem, ’n stroom waar ’n mens nie deur kan loop nie.

6. En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien, mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom.

7. Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ’n menigte bome gesien, aan altwee kante.

8. En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word.

Eségiël 47