Eségiël 41:13-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Verder het hy die huis gemeet: die lengte honderd el; ook die afgeslote ruimte en die gebou en die mure daarvan: die lengte honderd el.

14. En die breedte van die voorkant van die huis en van die afgeslote ruimte na die ooste toe: honderd el.

15. So het hy dan gemeet die lengte van die gebou teenoor die afgeslote ruimte, wat aan die agterkant daarvan lê, en die galerye daarvan aan weerskante: honderd el, en die binneste van die tempel en die voorportale van die voorhof;

16. die drumpels en die vensters van latwerk en die galerye rondom al drie — teenoor die drumpel was geskaafde hout al rondom — en die grond tot by die vensters (die vensters was bedek),

17. die plek bokant die deur tot in die binneste huis sowel as buitekant, en op die hele muur al rondom, binnekant en buitekant — oral was daar vaste mate.

18. En aangebring is gérubs en palmbome, en daar was ’n palmboom tussen gérub en gérub; en elke gérub het twee aangesigte gehad:

19. die aangesig van ’n mens na die palmboom toe aan die een, en die aangesig van ’n jong leeu na die palmboom toe aan die ander kant; in die hele huis al rondom is dit aangebring;

20. van die grond af tot bokant die deur is die gérubs en die palmbome aangebring, en wel aan die muur van die hoofvertrek.

21. Die deurposte van die hoofvertrek was vierkantig; en die voorkant van die heiligdom het dieselfde voorkoms gehad.

22. Die altaar was van hout, drie el hoog, en sy lengte twee el, en dit het sy hoekstukke gehad; en sy voetstuk en sy sykante was van hout. En hy het vir my gesê: Dit is die tafel wat voor die aangesig van die Here is.

23. En die hoofvertrek en die heiligdom het elkeen twee deure gehad.

24. En die deure het twee vleuels gehad, twee vleuels wat kon draai; twee vir die een deur en twee vleuels vir die ander een.

Eségiël 41