7. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.
8. As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
9. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.
10. En jy, mensekind, sê aan die huis van Israel: So het julle gesê: Gewis, ons oortredinge en ons sondes is op ons, en daardeur teer ons weg — hoe kan ons dan lewe?
11. Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?