1. VERDER het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
2. Maar jy, mensekind, hef ’n klaaglied oor Tirus aan,
3. en sê aan Tirus, wat woon by die ingange van die see, wat handel drywe met die volke na baie kuslande toe: So spreek die Here Here: o Tirus, jy sê: Ek is volmaak in skoonheid.
4. In die hart van die seë is jou gebied; jou boumeesters het jou skoonheid volkome gemaak.
5. Van sipresse uit Senir het hulle vir jou al die plankwerk gebou; ’n seder uit Líbanon het hulle geneem om op jou ’n mas te maak.
6. Van eikebome uit Basan het hulle jou roeispane gemaak; jou dek het hulle gemaak uit ivoor, ingelê in dennehout uit die kuslande van die Kittiërs.
7. Veelkleurige fyn linne uit Egipte was jou seil, om vir jou as vlag te dien; pers en purper stowwe uit die kuslande van Elísa was jou hutbedekking.
8. Die inwoners van Sidon en Arwad was jou roeiers; jou wyse manne was in jou, o Tirus, hulle was jou stuurmanne.
9. Die oudstes van Gebal en sy wyse manne was in jou om jou lekplekke reg te maak; al die skepe van die see en hulle seevaarders was in jou om jou koopware te verhandel.
10. Perse en Ludiete en Putéërs was in jou leër, jou krygsmanne; skild en helm het hulle in jou opgehang; hulle het aan jou glans gegee.
11. Die kinders van Arwad en jou leër was op jou mure rondom, en die Gammadiete was op jou torings; hul skilde het hulle aan jou mure rondom gehang; hulle het jou skoonheid volkome gemaak.