Eségiël 16:45-60 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

45. Jy is die dogter van jou moeder, wat ’n afsku gehad het van haar man en haar kinders; en jy is die suster van jou susters, wat ’n afsku gehad het van hulle mans en hulle kinders: julle moeder was ’n Hetitiese vrou, en julle vader ’n Amoriet.

46. En jou groot suster is Samaría, sy met haar dogters wat woon aan jou linkerkant; maar jou suster wat kleiner as jy is, wat aan jou regterkant woon, is Sodom met haar dogters.

47. Maar jy het nie gewandel in hulle weë en nie gehandel volgens hulle gruwels nie; net ’n kort rukkie — en jy het verderfliker gehandel as hulle in al jou weë.

48. So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, jou suster Sodom, sy met haar dogters, het nie gehandel soos jy gehandel het, jy met jou dogters nie.

49. Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie.

50. En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim.

51. Samaría het ook nie die helfte van jou sondes gedoen nie: jy het gruwels vermenigvuldig, meer as hulle, en jy het jou susters geregverdig deur al jou gruwels wat jy gedoen het.

52. Dra dan ook jou skande, jy wat vir jou susters ingetree het: deur jou sondes wat jy gruweliker gemaak het as hulle, is hulle regverdiger as jy. Skaam jou dan ook, en dra jou skande, omdat jy jou susters geregverdig het.

53. En Ek sal hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters, en die lot van Samaría en haar dogters; en Ek sal jou lot verander tussen dié twee in;

54. dat jy jou skande kan dra en jou kan skaam oor alles wat jy gedoen het deur hulle te troos.

55. En jou susters, Sodom met haar dogters, sal na hulle vorige toestand terugkeer; en Samaría met haar dogters sal na hulle vorige toestand terugkeer; en jy met jou dogters sal na julle vorige toestand terugkeer.

56. Ja, die naam van jou suster Sodom is in jou mond nie gehoor in die dag van jou trotsheid nie,

57. voordat jou boosheid geopenbaar is, soos in die tyd van versmading deur die dogters van Aram en deur almal wat daar rondom was — die dogters van die Filistyne — wat jou van alle kante verag het.

58. Jou skandelike daad en jou gruwels moet jý dra, spreek die Here Here.

59. Want so sê die Here Here: Ja, Ek doen aan jou soos jy gedoen het, wat die eedswering geminag het deur die verbond te verbreek.

60. Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug, en Ek sal met jou ’n ewige verbond oprig.

Eségiël 16