Deuteronómium 8:7-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Want die Here jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom;

8. ’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ’n land van olieryke olyfbome en heuning;

9. ’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ’n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap;

10. en jy sal eet en versadig word en die Here jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het.

11. Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie;

12. sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon,

13. en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder —

14. en jou hart hom dan verhef, dat jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het;

15. wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ’n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het;

16. wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen —

17. en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe.

18. Maar dink aan die Here jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, soos dit vandag is.

Deuteronómium 8