1. TOE het Moses opgeklim uit die vlaktes van Moab na die berg Nebo, die top van Pisga wat teenoor Jérigo lê; en die Here het hom die hele land, Gílead tot Dan toe, laat sien;
2. en die hele Náftali en die land Efraim en Manasse en die hele land Juda tot by die Westelike See;
3. en die Suidland en die Jordaanstreek, die laagte van Jérigo, die palmstad, tot by Soar.
4. En die Here het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.
5. Toe het Moses, die kneg van die Here, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die Here.