1. LUISTER, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond.
2. Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante.
3. Want die Naam van die Here roep ek uit: Gee grootheid aan onse God!
4. Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.
5. Hulle het verderflik teen Hom gehandel — die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek — ’n verkeerde en verdraaide geslag.
6. Durf julle dit die Here vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hý nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hý jou nie gemaak en jou toeberei nie?
7. Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê.
8. Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.
9. Want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.
10. Hy het hom gevind in ’n woestynland en in ’n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.
11. Soos ’n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels —
12. die Here alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.
13. Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots;
14. dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.
15. Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop — jy het vet geword, dik geword, spekvet geword — en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.
16. Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg.
17. Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.
18. Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.
19. Toe die Here dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters.
20. En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ’n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie.