Daniël 2:7-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Hulle het vir die tweede maal geantwoord en gesê: Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee.

8. Die koning het geantwoord en gesê: Ek weet verseker dat julle tyd wil win, omdat julle sien dat die saak by my vasstaan;

9. want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om ’n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee.

10. Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie.

11. Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie.

12. Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring.

13. Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word.

14. Daarop het Daniël aan Áriog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, ’n slim en verstandige antwoord gegee.

15. Hy antwoord en sê vir Áriog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Áriog aan Daniël die saak meegedeel.

16. Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee.

17. Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend,

18. en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie.

19. Daarop is in ’n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof.

20. Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.

21. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;

22. Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.

23. U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.

24. Daarom het Daniël ingegaan na Áriog, wat die koning aangestel het om die wyse manne van Babel om te bring; hy het gegaan en vir hom só gesê: Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee.

25. Toe het Áriog Daniël haastig voor die koning ingebring en só vir hom gesê: Ek het ’n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak.

26. Die koning het geantwoord en aan Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak?

27. Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.

Daniël 2