22. Maar Dawid sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja, dat julle vandag my teëstanders word? Sou iemand vandag in Israel gedood word? Want weet ek dan nie dat ek vandag koning oor Israel is nie?
23. Daarop sê die koning aan Símeï: Jy sal nie sterf nie. En die koning het vir hom gesweer.
24. Mefibóset, die kleinseun van Saul, het ook afgekom die koning tegemoet, en hy het sy voete nie skoongemaak en sy baard nie geskeer en sy klere nie gewas van die dag af dat die koning weggegaan het tot op die dag dat hy behoue teruggekom het nie;
25. en toe hy in Jerusalem die koning tegemoetkom, sê die koning vir hom: Waarom het jy nie met my saamgetrek nie, Mefibóset?
26. En hy antwoord: My heer die koning, my dienaar het my bedrieg; want u dienaar het gedink: Ek wil vir my die esel laat opsaal, dat ek daarop kan ry en met die koning kan saamtrek, want u dienaar is lam.
27. Hy het ewenwel u dienaar by my heer die koning belaster, maar my heer die koning is soos ’n engel van God: doen dan wat goed is in u oë.