2 Samuel 13:22-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Maar Absalom het met Amnon geen kwaad of goed gepraat nie, maar Absalom het Amnon gehaat, omdat hy sy suster Tamar onteer het.

23. En ná twee volle jare het Absalom skeerders gehad in Baäl-Hasor wat by Efraim is, en Absalom het al die seuns van die koning genooi.

24. Daarop kom Absalom by die koning en sê: Kyk tog, u dienaar het skeerders. Laat die koning en sy dienaars tog met u dienaar saamgaan.

25. Maar die koning sê vir Absalom: Ag nee, my seun, laat ons tog nie almal saamgaan nie, sodat ons jou nie lastig val nie. En hy het by hom aangehou, maar hy wou nie gaan nie en het hom die afskeidseën gegee.

26. Daarop sê Absalom: So nie, laat my broer Amnon tog saam met ons gaan. Maar die koning sê vir hom: Waarom moet hy met jou saamgaan?

27. Toe Absalom dan by hom aanhou, het hy Amnon en al die seuns van die koning met hom saam laat gaan.

28. En Absalom het sy dienaars bevel gegee en gesê: Let tog op, net soos Amnon se hart vrolik is van die wyn en ek vir julle sê: Slaan Amnon dood! dan moet julle hom doodmaak. Wees nie bevrees nie; het ék julle dit nie beveel nie? Wees sterk en wees wakker manne.

29. En die dienaars van Absalom het met Amnon gedoen soos Absalom hulle beveel het. Toe het al die seuns van die koning opgestaan, en hulle het elkeen op sy muil geklim en gevlug.

2 Samuel 13