2 Samuel 10:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN daarna het die koning van die kinders van Ammon gesterwe, en sy seun Hanun het in sy plek koning geword.

2. Toe sê Dawid: Ek wil guns bewys aan Hanun, die seun van Nahas, soos sy vader aan my guns bewys het. Daarom het Dawid gestuur om hom deur sy dienaars oor sy vader te troos. Toe die dienaars van Dawid dan in die land van die kinders van Ammon kom,

3. het die vorste van die kinders van Ammon aan Hanun, hulle heer, gesê: Eer Dawid u vader in u oë, omdat hy vir u troosters gestuur het? Het Dawid nie sy dienaars na u gestuur om die stad te deursoek en dit te verken en dit om te keer nie?

4. Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer die een helfte van hulle baard af en sny hulle klere in die helfte af, tot by hulle sitplekke; en hy het hulle laat gaan.

5. En toe hulle aan Dawid hiervan berig bring, stuur hy om hulle tegemoet te gaan, want die manne was baie skaam. En die koning het gesê: Bly in Jérigo totdat julle baard weer gegroei het; kom dan terug.

6. Toe die kinders van Ammon sien dat hulle hul gehaat gemaak het by Dawid, het die kinders van Ammon gestuur en die Arameërs van Bet-Rehob en die Arameërs van Soba gehuur, twintigduisend voetgangers, en van die koning van Máäga, duisend man, en die manne van Tob, twaalfduisend man.

7. En Dawid het dit gehoor en Joab met die hele leër, die helde, gestuur.

8. En die kinders van Ammon het uitgetrek en die slagorde opgestel by die ingang van die poort, terwyl die Arameërs van Soba en Rehob en die manne van Tob en Máäga afsonderlik in die veld was.

9. Toe Joab sien dat ’n aanval van voor sowel as van agter hom bedreig, het hy uit al die uitgesoektes in Israel ’n keuse gedoen en hulle opgestel teenoor die Arameërs.

2 Samuel 10