5. En die groot vertrek het hy met sipreshout oordek en dit met goeie goud oorgetrek en daar palmbome en kettings op aangebring.
6. Verder het hy die huis met kosbare stene as versiering oorgetrek, en die goud was goud van Parwáim.
7. Ook het hy die huis, die balke, die drumpels en die mure en deure daarvan met goud oorgetrek en gérubs op die mure uitgesny.
8. Verder het hy die Allerheiligste Vertrek gemaak; die lengte daarvan, voor op die breedte van die huis, was twintig el, en die breedte daarvan twintig el; en hy het dit oorgetrek met fyn goud, van seshonderd talente.
9. En die gewig van die spykers was vyftig sikkels aan goud; ook die bovertrekke het hy met goud oorgetrek.
10. Ook het hy in die Allerheiligste Vertrek twee gérubs gemaak, ’n werk van beeldhoukuns, en dit met goud oorgetrek.
11. En die vlerke van die gérubs, die lengte daarvan was twintig el; die vlerk van vyf el van die een het geraak aan die muur van die vertrek, terwyl die ander vlerk van vyf el geraak het aan die vlerk van die ander gérub;
12. en die vlerk van die ander gérub van vyf el het geraak aan die muur van die vertrek, en die ander vlerk van vyf el was vas teen die vlerk van die ander gérub.
13. Hierdie gérubs het die vlerke twintig el uitgesprei, en hulle het op hul voete gestaan met hul gesigte na die huis toe.
14. En die voorhangsel het hy gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi en fyn linne en daar gérubs op aangebring.
15. Verder het hy twee pilare voor die huis gemaak; vyf-en-dertig el was die hoogte, met ’n kapiteel wat op die top daarvan was, vyf el hoog.
16. Hy het ook kettings gemaak soos ’n krans en dit op die top van die pilare aangebring; verder het hy honderd granaatjies gemaak en aan die kettings bevestig.
17. En hy het die pilare voor die tempel opgerig, die een regs en die ander links; en die regter-een het hy genoem Jagin, en die linker-een Boas.