17. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees.
18. Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die Here neergeval om die Here te aanbid.
19. En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die Here, die God van Israel, met ’n baie groot stem te prys.
20. Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.