2 Kronieke 19:4-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En Jósafat het in Jerusalem gewoon, en hy het weer uitgegaan onder die volk, van Berséba af tot by die gebergte van Efraim, en hulle laat terugkeer tot die Here, die God van hulle vaders.

5. En hy het regters aangestel in die land, in al die versterkte stede van Juda, in elke stad.

6. En hy het aan die regters gesê: Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die Here; en Hy is by julle in die regspraak.

7. Mag die skrik vir die Here dan nou op julle wees; handel nougeset, want by die Here onse God is geen onreg of partydigheid of aanneming van geskenke nie.

8. En ook in Jerusalem het Jósafat sommige van die Leviete en van die priesters en van die familiehoofde uit Israel aangestel vir die gereg van die Here en vir regsake. En hulle het in Jerusalem teruggekom.

9. En hy het hulle bevel gegee en gesê: So moet julle handel in die vrees van die Here, met getrouheid en met ’n volkome hart.

10. En by al die regsake wat voor julle kom vanweë julle broers wat in hulle stede woon, oor moord, oor wette en gebooie en insettinge en verordeninge, moet julle hulle waarsku, sodat hulle hul nie skuldig maak teen die Here en ’n toorn oor julle en oor julle broers kom nie; so moet julle handel, dat julle jul nie skuldig maak nie.

2 Kronieke 19