7. Maar Samuel het die Here nog nie geken nie; ook was die woord van die Here nog nie aan hom geopenbaar nie.
8. En die Here het Samuel weer geroep vir die derde maal; en hy het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Toe merk Eli dat die Here die seun geroep het.
9. Daarom het Eli vir Samuel gesê: Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy antwoord: Spreek, Here, want u kneg hoor. Toe het Samuel geloop en op sy plek gaan lê.
10. Toe het die Here gekom en gaan staan en geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor.