11. Sou ek dan my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, neem en aan manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan kom nie?
12. Daarop het die jongmanne van Dawid omgedraai op hulle pad, hulle het teruggekeer en aangekom en hom berig gebring volgens al hierdie woorde.
13. Toe sê Dawid aan sy manne: Gord julle elkeen sy swaard aan! Hulle gord toe elkeen sy swaard aan — Dawid het ook sy swaard aangegord — en hulle trek agter Dawid op, omtrent vierhonderd man, terwyl tweehonderd by die pakgoed bly.
14. Maar aan Abígail, die vrou van Nabal, het een van die jongmanne berig gebring en gesê: Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te begroet, maar hy het teen hulle uitgevaar.
15. Tog was die manne vir ons baie goed; ook is ons nie beledig nie, en ons het niks vermis al die dae wat ons saam met hulle rondgetrek het toe ons in die veld was nie.
16. Hulle was ’n muur om ons, snags sowel as bedags, al die dae wat ons die skape by hulle opgepas het.
17. En nou moet u self ondersoek en kyk wat u moet doen; want die onheil is vas besluit oor ons heer en oor sy hele huis; maar hy self is so ’n deugniet dat jy nie met hom kan praat nie.
18. Toe het Abígail gou tweehonderd brode geneem en twee sakke wyn en vyf toebereide skape en vyf mate gebraaide koring en honderd rosynekoeke en tweehonderd vyekoeke en dit op esels gesit.
19. En sy het aan haar jongmanne gesê: Trek voor my uit; kyk, ek kom dadelik agter julle aan. Maar aan haar man Nabal het sy niks te kenne gegee nie.
20. En terwyl sy op die esel ry en in ’n kloof van die berg afdaal, kom Dawid en sy manne meteens af haar tegemoet, sodat sy hulle teëgekom het.
21. Dawid het al gedink: Net verniet het ek alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn beskerm, sodat daar nooit iets van sy goed vermis is nie; en hy vergeld my kwaad vir goed.
22. Mag God so aan die vyande van Dawid doen en so daaraan toedoen, as ek van almal wat aan hom behoort, tot môre een laat oorbly wat manlik is.
23. Toe Abígail Dawid sien, het sy gou van die esel afgeklim en voor Dawid op haar aangesig neergeval en na die aarde toe gebuig.
24. En sy het voor sy voete neergeval en gesê: Op mý, my heer, rus die skuld, maar laat u dienares tog voor u ore mag spreek, en luister na die woorde van u dienares.
25. My heer moet hom tog nie steur aan daardie deugniet van ’n man, aan Nabal nie; want soos sy naam is, so is hy; sy naam beteken dwaas, en dwaasheid is by hom. Maar wat my betref, u dienares het my heer se jongmanne wat u gestuur het, nie gesien nie.