1. EN Samuel het gesterwe, en die hele Israel het saamgekom en oor hom gerouklaag en hom begrawe in sy huis in Rama. En Dawid het hom klaargemaak en afgetrek na die woestyn Paran.
2. En daar was ’n man in Maon wat sy boerdery in Karmel gehad het, en die man was baie vermoënd: hy het drieduisend skape en duisend bokke gehad, en hy was besig om sy skape te skeer in Karmel.
3. En die naam van die man was Nabal, en die naam van sy vrou Abígail; en die vrou het ’n goeie verstand gehad en was mooi van aansien; maar die man was grof en boosaardig, en hy was ’n Kalebiet.
4. Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer,
5. stuur Dawid tien jongmanne, en Dawid sê aan die jongmanne: Trek op na Karmel en gaan by Nabal in en vra hom in my naam na die welstand;
6. en so moet julle aan die welvarende sê: Mag dit goed gaan met u sowel as met u huis, en goed gaan met alles wat u besit.
7. En nou, ek het gehoor dat u skeerders het; nou ja, u wagters was met ons saam; ons het hulle nie beledig nie, en hulle het ook niks vermis al die dae wat hulle in Karmel was nie.
8. Vra u dienaars, en hulle sal u dit te kenne gee; laat dus die jongmanne guns vind in u oë, want ons het op ’n vrolike dag gekom; gee tog wat u byderhand het aan u dienaars en aan u seun Dawid.
9. Toe het die jongmanne van Dawid gekom en met Nabal in naam van Dawid volgens al hierdie woorde gespreek en verder afgewag.
10. Maar Nabal het die dienaars van Dawid geantwoord en gesê: Wie is Dawid? En wie is die seun van Ísai? Daar is vandag baie dienaars wat hulle losskeur, elkeen van sy heer af.
11. Sou ek dan my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, neem en aan manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan kom nie?