19. En sy moeder was gewoond om vir hom ’n klein manteltjie te maak wat sy van jaar tot jaar vir hom gebring het as sy met haar man opgaan om die jaarlikse offer te bring.
20. Dan seën Eli Élkana en sy vrou en sê: Mag die Here jou ’n nageslag gee uit hierdie vrou ter vergoeding van wat aan die Here afgestaan is. Daarop gaan hulle na sy woonplek toe.
21. En die Here het ag gegee op Hanna, sodat sy swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gebaar het; en die seun Samuel het groot geword by die Here.
22. Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms,
23. dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor?
24. Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die Here oortree.
25. As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ’n mens teen die Here sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die Here wou hulle ombring.