7. Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.
8. Toe roep Ísai Abinádab en laat hom voor Samuel verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die Here ook nie uitgekies nie.
9. Verder het Ísai Samma laat verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die Here ook nie uitgekies nie.
10. So het Ísai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het aan Ísai gesê: Die Here het hulle nie uitgekies nie.
11. Verder het Samuel aan Ísai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Ísai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.
12. Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en ’n mooi voorkoms. En die Here sê: Staan op, salf hom, want dit is hy.