4. En Samuel het gedoen wat die Here gespreek het; en toe hy by Betlehem aankom, het die oudstes van die stad hom bewend tegemoetgegaan en gevra: Is u koms vrede?
5. En hy sê: Vrede! Ek kom om aan die Here te offer; heilig julle, en kom met my saam aan die offermaaltyd. En hy het Ísai en sy seuns geheilig en hulle na die offermaaltyd genooi.
6. Toe hulle inkom en hy Elíab sien, dink hy: Gewis, hier staan voor die Here sy gesalfde!
7. Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.
8. Toe roep Ísai Abinádab en laat hom voor Samuel verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die Here ook nie uitgekies nie.
9. Verder het Ísai Samma laat verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die Here ook nie uitgekies nie.
10. So het Ísai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het aan Ísai gesê: Die Here het hulle nie uitgekies nie.
11. Verder het Samuel aan Ísai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Ísai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.
12. Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en ’n mooi voorkoms. En die Here sê: Staan op, salf hom, want dit is hy.
13. Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan.
14. MAAR die Gees van die Here het van Saul gewyk, en ’n bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik.
15. Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ’n bose gees van God verskrik u:
16. laat ons heer net sê, en u dienaars wat voor u staan, sal ’n man soek wat op die siter kan speel; en as die bose gees van God oor u is, moet hy speel met sy hand, dan sal dit beter met u word.