1 Kronieke 28:4-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Maar die Here, die God van Israel, het my verkies uit my hele familie om vir altyd koning oor Israel te wees; want Hy het Juda as vors verkies, en in die huis van Juda my familie; en onder die seuns van my vader het Hy in my behae gehad om my koning te maak oor die hele Israel.

5. En uit al my seuns — want die Here het my baie seuns gegee — het Hy my seun Salomo verkies om te sit op die troon van die koningskap van die Here oor Israel.

6. En Hy het aan my gesê: Jou seun Salomo, hy sal my huis en my voorhowe bou, want Ek het hom vir My as ’n seun verkies, en Ék sal vir hom ’n Vader wees.

7. En Ek sal sy koningskap bevestig tot in ewigheid as hy getrou my gebooie en my verordeninge onderhou, soos vandag.

8. Nou dan, voor die oë van die hele Israel, die vergadering van die Here, en voor die ore van onse God: Onderhou en soek al die gebooie van die Here julle God, sodat julle hierdie goeie land kan besit en julle kinders ná julle tot in ewigheid kan laat erwe.

9. En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die Here deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.

10. Kyk nou, die Here het jou verkies om ’n huis vir ’n heiligdom te bou; wees sterk en voer dit uit.

11. En Dawid het aan sy seun Salomo ’n voorbeeld gegee van die voorportaal en die daarby behorende geboue, van sy skatkamers en sy bovertrekke en sy binnevertrekke en van die vertrek van die versoendeksel;

12. en ’n voorbeeld van alles wat by hom in die gees was: van die voorhowe van die huis van die Here en van al die kamers rondom en die skatkamers van die huis van God en die skatkamers van die heilige gawes;

1 Kronieke 28