1 Korinthiërs 15:40-45 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

40. En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse.

41. Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster.

42. So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid;

43. daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.

44. ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam.

45. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees.

1 Korinthiërs 15