12. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
13. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
14. DAAROM, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.
15. Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê:
16. die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?
17. Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.
18. Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie?
19. Wat sê ek dan? Dat ’n afgod iets is, of dat ’n afgodsoffer iets is?
20. Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.
21. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.