2. Hy het drie jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Máäga, die dogter van Abísalom.
3. En hy het gewandel in al die sondes van sy vader wat hy voor hom gedoen het; en sy hart was nie volkome met die Here sy God soos die hart van sy vader Dawid nie.
4. Maar ter wille van Dawid het die Here sy God vir hom ’n lamp in Jerusalem gegee deur sy seun ná hom te verwek en Jerusalem in stand te hou,
5. omdat Dawid gedoen het wat reg was in die oë van die Here, sonder om af te wyk van alles wat Hy hom beveel het, al die dae van sy lewe, behalwe in die saak van Uría, die Hetiet.
6. En daar was oorlog tussen Rehábeam en Jeróbeam, al die dae van sy lewe.
7. En die verdere geskiedenis van Abía en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Daar was ook oorlog tussen Abía en Jeróbeam.
8. En Abía het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid; en sy seun Asa het in sy plek koning geword.
9. IN die twintigste jaar dan van Jeróbeam, die koning van Israel, het Asa koning van Juda geword.
10. En hy het een-en-veertig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Máäga, ’n dogter van Abísalom.
11. En Asa het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy vader Dawid:
12. hy het die skandseuns uit die land laat wegtrek en al die drekgode verwyder wat sy vaders gemaak het.
13. Ja, selfs sy moeder Máäga het hy as gebiedster afgesit, omdat sy ’n afgryslike voorwerp vir Asjéra gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp omgekap en in die dal Kidron verbrand.