1 Konings 15:19-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Daar is ’n verbond tussen my en u, tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur ’n geskenk van silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van Israel, dat hy kan optrek, weg van my af.

20. En Bénhadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte teen die stede van Israel gestuur, en Ijon en Dan en Abel-Bet-Máäga en die hele Kínnerot met die hele land Náftali verwoes.

21. En net toe Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en in Tirsa gebly.

22. Toe roep koning Asa die hele Juda op — niemand was vry nie — en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en daarmee het koning Asa Geba in Benjamin en Mispa gebou.

23. En die res van die verdere geskiedenis van Asa en al sy magtige dade en alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Maar in die tyd van sy ouderdom het hy aan sy voete gely.

24. En Asa het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Jósafat het in sy plek koning geword.

25. EN Nadab, die seun van Jeróbeam, het koning geword oor Israel in die tweede jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het twee jaar oor Israel geregeer.

26. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en gewandel in die weg van sy vader en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.

27. Maar Baésa, die seun van Ahía, van die huis van Íssaskar, het ’n sameswering teen hom gesmee, en Baésa het hom verslaan by Gíbbeton wat aan die Filistyne behoort, terwyl Nadab en die hele Israel besig was om Gíbbeton te beleër.

28. So het Baésa hom dan gedood in die derde jaar van Asa, die koning van Juda, en koning geword in sy plek.

29. En sodra hy koning was, het hy die hele huis van Jeróbeam omgebring; hy het van Jeróbeam niks laat oorbly wat asemhaal nie, totdat hy hom verdelg het, volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg Ahía, die Siloniet —

1 Konings 15