1 Konings 1:41-53 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

41. En Adónia het dit gehoor en al die genooides wat by hom was, toe hulle net klaar geëet het; Joab het ook die geluid van die ramshoring gehoor en gesê: Waarom is die geluid van die stad rumoerig?

42. Terwyl hy nog spreek, kom Jónatan, die seun van die priester Ábjatar, daar aan; en Adónia sê: Kom in, want jy is ’n wakker man en bring ’n goeie boodskap.

43. Maar Jónatan antwoord Adónia en sê: Ja, maar ons heer die koning Dawid het Salomo koning gemaak!

44. En die koning het Sadok, die priester, en Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti met hom saam gestuur, en hulle het hom op die koning se muil laat ry;

45. en Sadok, die priester, en Natan, die profeet, het hom in Gihon as koning gesalf, en daarvandaan het hulle met blydskap opgetrek, sodat die stad opgewonde geraak het; dit is die geluid wat julle gehoor het.

46. En ook het Salomo op die koninklike troon gaan sit.

47. Bowendien het die dienaars van die koning gekom om ons heer die koning Dawid geluk te wens met die woorde: Mag u God die naam van Salomo beter maak as u naam en sy troon groter maak as u troon. Toe het die koning op die bed aanbid;

48. en die koning het ook so gesê: Geseënd is die Here, die God van Israel, wat vandag gegee het dat een op my troon sit terwyl my oë dit sien.

49. Daarop het al die genooides wat by Adónia was, verskrik opgestaan en elkeen sy pad gegaan.

50. Maar Adónia was bevrees vir Salomo en het opgestaan en heengegaan en die horings van die altaar vasgehou.

51. Toe is daar aan Salomo meegedeel en gesê: Kyk, Adónia is bevrees vir koning Salomo; en kyk, hy hou die horings van die altaar vas en sê: Laat koning Salomo eers vir my sweer dat hy sy dienaar nie met die swaard sal ombring nie.

52. Daarop sê Salomo: As hy ’n betroubare man sal wees, sal geen haar van hom op die aarde val nie; maar as daar kwaad in hom gevind word, moet hy sterwe.

53. En koning Salomo het gestuur, en hulle het hom van die altaar afgebring, en hy het ingekom en hom voor koning Salomo neergebuig. En Salomo het vir hom gesê: Gaan na jou huis.

1 Konings 1