29. Toe sweer die koning en sê: So waar as die Here leef wat my uit alle benoudheid verlos het,
30. sekerlik, soos ek u by die Here, die God van Israel, gesweer en gesê het dat u seun Salomo ná my koning moet word en hý op my troon moet sit in my plek, sekerlik so doen ek vandag nog.
31. En Bátseba het met die aangesig na die aarde gebuig en voor die koning neergeval en gesê: Mag my heer die koning Dawid vir ewig lewe!
32. Verder het koning Dawid gesê: Roep vir my Sadok, die priester, en Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada. Toe kom hulle in voor die koning,
33. en die koning sê vir hulle: Neem die dienaars van julle heer met julle saam en laat my seun Salomo op my eie muil ry, en bring hom af na Gihon toe;
34. en laat Sadok, die priester, en Natan, die profeet, hom daar as koning oor Israel salf, en julle moet op die ramshoring blaas en sê: Mag koning Salomo lewe!
35. Dan moet julle agter hom optrek, dat hy kan inkom en op my troon sit; want hý moet koning wees in my plek, en ek het hom aangestel om ’n vors oor Israel en Juda te wees.
36. Toe antwoord Benája, die seun van Jójada, die koning en sê: Amen! Mag die Here, die God van my heer die koning, ook so sê.
37. Soos die Here met my heer die koning was, mag Hy so met Salomo wees; en mag Hy sy troon groter maak as die troon van my heer die koning Dawid.
38. Toe het Sadok, die priester, afgegaan saam met Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada, en die Kreti en die Pleti, en hulle het Salomo laat ry op die muil van koning Dawid en hom na Gihon gebring.
39. En die priester Sadok het die horing met olie uit die tent geneem en Salomo gesalf, en hulle het op die ramshoring geblaas, en die hele volk het gesê: Mag koning Salomo lewe!
40. Toe gaan die hele volk op agter hom aan, terwyl die volk op fluite speel en hulle verheug met groot blydskap, sodat die aarde geskeur het van hulle geluid.
41. En Adónia het dit gehoor en al die genooides wat by hom was, toe hulle net klaar geëet het; Joab het ook die geluid van die ramshoring gehoor en gesê: Waarom is die geluid van die stad rumoerig?