Spreuke 4:4-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. My pa het toe ook vir my gesê: “Hou vas aan wat ek jou leer.Hou by my voorskrifte dat jy kan lewe.

5. Soek na wysheid en goeie oordeel.Moenie my woorde vergeet nie.Moenie dit laat los nie.

6. Moet nooit afstand doen van die wysheid nie. Dit sal jou beskerm. As jy wysheid liefhet, sal dit jou beveilig.

7. Die verstandigste ding om te doen, is om eers wysheid te bekom. Wy jou daaraan toe om veral onderskeidingsvermoë te verkry.

8. Stel wysheid voorop, dan sal dit vir jou aansien gee. Stel dit hoog op prys en dit sal aan jou eer gee.

9. Dit sal jou kroon met voorspoed. Dit sal vir jou ’n pragtige kroon gee.”

10. My seun, luister na my! Neem my woorde ernstig op. Dit sal jou lank laat lewe.

11. Ek sal jou leer hoe wysheid werk. Ek sal jou op die regte pad lei.

12. As jy op jou lewenspad loop, sal daar nie struikelblokke op jou pad wees nie. As jy hardloop, sal jy nie oor iets val nie.

13. Hou vas aan die reëls wat ek jou leer. Moet dit nie laat los nie. Bewaar dit, want dit verryk jou lewe.

14. Moenie dieselfde pad loop as goddelose mense nie. Bly weg van die pad van boosdoeners.

15. Los hulle pad uit, moenie daarop gaan nie. Draai daarvan weg en kies ’n ander koers.

16. Hulle kan nie gaan slaapas hulle nie kwaad gedoen het nie. Hulle kan nie tot ruste kom as hulle nie iemand anders ook laat struikel het nie.

17. Misdaad is hulle kos. Geweld is hulle drank.

18. Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek.

19. Die pad van die goddeloses is soos stikdonker. Hulle weet nie eers waaroor hulle gestruikel het nie.

20. My seun, luister baie goed na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my woorde!

21. Moet dit nooit uit die oog verloor nie.Hou dit altyd in gedagte.

22. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam.

Spreuke 4