Spreuke 4:10-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. My seun, luister na my! Neem my woorde ernstig op. Dit sal jou lank laat lewe.

11. Ek sal jou leer hoe wysheid werk. Ek sal jou op die regte pad lei.

12. As jy op jou lewenspad loop, sal daar nie struikelblokke op jou pad wees nie. As jy hardloop, sal jy nie oor iets val nie.

13. Hou vas aan die reëls wat ek jou leer. Moet dit nie laat los nie. Bewaar dit, want dit verryk jou lewe.

14. Moenie dieselfde pad loop as goddelose mense nie. Bly weg van die pad van boosdoeners.

15. Los hulle pad uit, moenie daarop gaan nie. Draai daarvan weg en kies ’n ander koers.

16. Hulle kan nie gaan slaapas hulle nie kwaad gedoen het nie. Hulle kan nie tot ruste kom as hulle nie iemand anders ook laat struikel het nie.

17. Misdaad is hulle kos. Geweld is hulle drank.

18. Die pad van die regverdiges is soos die lig met dagbreek. Dit word al helderder totdat die volle dag aanbreek.

19. Die pad van die goddeloses is soos stikdonker. Hulle weet nie eers waaroor hulle gestruikel het nie.

20. My seun, luister baie goed na wat ek vir jou sê. Spits jou ore vir my woorde!

Spreuke 4