Spreuke 31:2-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. My seun, my kind wat ek in die wêreld gebring het, oor wie ek ’n gelofte afgelê het,

3. jy moenie jou lewe op vroue verspil nie. Moenie jou lewe deurbring met hulle wat konings laat struikel nie.

4. Lemuel, dit pas beslis nie by konings om te veel wyn te drink nie. Dit pas nie regeerders om hulle aan drank oor te gee nie.

5. Wanneer hulle gedrink het, vergeet hulle die weten laat hulle nie reg geskiedaan al hulle arm onderdane nie.

6. Gee sterk drank vir hulle wat besig is om dood te gaan. Laat hulle wat terneergedruk is, wyn drink.

7. Laat hulle drink om te vergeet hoe arm hulle is. Laat hulle vergeet van hulle sorge.

8. Praat namens hulle wat nie self kan praat nie. Verseker dat daar reg geskied aan hulle wat hulpeloos is.

9. Maak oop jou mond en lewer regverdige uitsprake. Laat reg geskied aan armes en ellendiges.

10. Waar sal jy ’n knap vrou kry? ’n Goeie vrou is meer werd as edelstene.

11. Haar man het volkome vertroue in haar.Hy pluk die vrugte van haar werk.

Spreuke 31